Junie

Oes rooikool met twee hande

 Juniemaand in ons kombuistuin

PLANT
Brusselse Spruite:
Verlede maand het ons Brusselse spruite, vanweë hul fyn saadjies, in klein plantbakkies geplant. Hulle behoort nou gereed te wees om in 'n groot bedding oorgeplant te word. Plant die plantjies ongeveer 45cm uitmekaar in die groter bedding. Maak seker die plantjies is stewig in die grond en gee dadelik water sodat dit vog behou. Plant Calendula-plantjies om die spruite teen ongewensde insekte te beskerm.

Boontjies:
Boontjies, soos die Lazy Housewife, boer-, geel- en winter groenboontjie, kan slegs in die winter en in rypvrye areas geplant word. Maak 'n gaatjie met jou vinger en plant die boontjiesaad ongeveer 1cm diep. Boontjies hou van klam grond, gee dus elke 2dae water. Die plantjies behoort binne 7dae te ontkiem en binne 60dae gereed te wees vir gebruik. Vir beskerming teen ongewensde peste, kan jy Lovage en bonekruid (winters savoury) plantjies daarby plant.

Onthou om vir swaar boerbone 'n stut te bou. Gebruik dun afvalhoutjies en binddraad om 'n eenvoudige raam om die plantjie te bou.

Tatsoi:

Maklike plant om te kweekPlant 20 cm uitmekaar om lugsirkulasie deur te laat, hou van enige weer, maar verkies koeler maande om geplant te word; plant in ‘n bedding wat middagkoelte kry in die somer; plant eerder saailinge as saad in die winter omdat saad moeiliker ontkiem; pluk gerus van kleins af blare of wag totdat hy blom, jy kan saad en blom gebruik.
Pasmaat – sprietuie hou goggas weg van tatsoi af.

Verlede maand het ons met ‘n komposhoop begin. Dit is nou vyf weke later wat beteken al die natuurlike lae afvalmateriale  is al goed in stukkies opgebreek. Spit dit diep in jou beddings in en laat dit dan nog ‘n maand staan voordat jy iets daarin plant. 


TAKE

Sny koljander of dhania terug; knip van onder af uit – nie almal wat saad het nie, want die saadkorrels kan jy ook gebruik; gee gerus in die winter ook kos, maar nie te veel nie want dan skiet dit te vinnig saad – gee dus elke ses weke organiese bemesting; sit gereeld nuwe plantjies in sodat jy deur die jaar koljander kan oes

Eenjarige plant, trek dus uit na drie/vier maande en gebruik gerus die hele plant in die kombuis – van die wortels tot die sade.


OES
Kool:
Rooikool is gereed vir oes wanneer jy twee hande om die koolkop kan sit. Blomkool is gereed vir oes wanneer die koolkop styf is en nog nie oopgemaak het nie.  'n Spierwit kleur is ook 'n goeie aanduiding dat dit reg is vir pluk. Sny die koolkoppe styf teen die blare af. Oes broccoli voor dit te ver uitgegroei is, 12 tot 20cm bo die stam, is reg. Onthou, as pasmaats het ons seldery, stinkafrikaners, kappertjies en ment saam met die koolgewasse geplant om goggas weg te hou.

Kool is eenjarige gewasse, so verwyder dus die hele plant na dit geoes is. So verseker jy ook dat die grond rus voor die volgende plantperiode.

Resepte:
Onthou:  Ingelegde rooibeet
Ontspan: Bagna cauda en focacciabrood
Onthaal: Biergestoofde varkpens                                     

Onthou: Groenkerriepasta
Ontspan: Thai Hoenderkerrie met gronbone en suikerertjies
Onthaal: Garnaalkokosneutlaksa (sop)


TUIN:  The Institute of Culinary Arts naby Stellenbosch
RESEPTE: Institute of Culinary Arts - sjefdosent Carol Weideman
TUINGHOEROE: Willie Schmidt van Aspidistra-kwekery naby Stellenbosch

Oes broccoli met die hand
Mandjie vol koolkoppe
Geel en Oranje blommetjies plant
Spit humus in bedding in
Lazy Housewife rank boontjie
Raamwerk vir rankboontjie
    

Lees Ook: