9 Februarie 2011: Voetstoeltjies

Houtblad vir voetstoeltjie Handwerk-ghoeroe, Marlize Lotz, het 'n oulike idee om so 'n tafeltjie in 'n moderne voetstoeltjie te omskep.

Jy benodig
Supawood-blad, effens groter as tafeltjie se blad
Digte spons, selfde grootte en vorm as jou supawood-blad
Materiaal, om die hele tafeltjie mee oor te trek
Naald en gare
Knoop vir versiering
Kramgeweer
Houtgom
Spuitgom

Begin deur jou tafeltjie behoorlik af te stof en smeer van die houtgom oor die oppervlak van die blad. Plaas dan jou supawood-blad bo-op en laat om droog te word.

Intussen drapeer jy die materiaal losweg oor die spons. Spasieer die materiaal só dat die spons presies in die middel is en die kante dus ewe lank sal afhang. Werk dan die mooi knoop in die middel van die spons vas met die naald en gare. 'n Oulike wenk is om twee klein stukkies karton aan albei kante van die spons te sit. Daar waar die garing deurgeryg word (onder die materiaal). Dit sal verhoed dat die gare nie deur die spons skeur nie.

Keer die spons om, sodat die materiaal na onder wys, en spuit gom oor die oppervlak. Plak die spons bo-op die supawood-blad op die tafeltjie vas en laat die materiaal aan die kante afhang.

Laastens keer jy die hele tafeltjie om en begin die materiaal wat oor die kante afhang netjies omvou. Gebruik jou kramgeweertjie om die materiaal rondom aan die supawood-blad te heg.
Trek voetstoeltjie spons met materiaal oor
Kram materiaal aan hout van voetstoeltjie vas
Plaas voete op voetstoeltjies
 

Lees Ook: