21 September 2011: Warmmatjie

Marlize lots plaas wit pot op tafel 'n Warmmatjie is een van daardie praktiese goed wat 'n mens gereeld in die kombuis of op die etenstafel nodig kry, maar dis nogal moeilik om een te kry wat altyd by jou tafel se kleurskema pas, so hier is 'n slim plan:

Jy kan jou ou oorskietlappies herwin deur hulle in lang stroke te sny en aanmekaar te vleg om matjies te maak. Op hierdie manier kan jy een maak vir elke kleurskema onder die son en dit kos jou boonop niks.

Jy benodig
stroke oorskietlap
skêr
naald en gare
knyper

Begin deur lang stroke materiaal te sny. Elke strook moet ongeveer  2,5cm breed wees en so lank as moontlik. Hoe groter jou matjie moet wees, hoe meer stroke materiaal het jy nodig. Enige tekstuur en kleur materiaal kan werk, afhangende van jou persoonlike smaak. Jy kan selfs verskillende soorte materiaal met mekaar vermeng as jy 'n bont matjie wil hê.

As jy genoeg stroke gesny het, kan jy begin om die punte met die hand aanmekaar vas te werk sodat jy op die ou end drie lekker lang stroke het. Knyp drie van die punte saam met die knyper en haak dit êrens sodat jy dit kan vleg. Hou aan om die stroke te vleg tot jy klaar is en begin dan om dit op te rol.

Dit maak nie saak as die materiaal effens uitrafel nie, dit dra net by tot die karakter van die eindproduk. Werk op 'n plat oppervlak terwyl jy rol en werk die materiaal telkens losweg vas om die rol in plek te hou.
Wit pot op warmmatjie
Sny stroke uit ou lap
Rol gevlegde lap op
   

Lees Ook: