2 Maart 2011: GLOBE en Linnware-keramiek

Jo-Marie Rabe met Linnware-keramiek stukke Sedertdien Jo-Marie oor Linnware-keramiek gepraat het, het heelwat mense navraag gedoen oor eenderse groen stukke wat met die woord “GLOBE” gewaarmerk is, en wou weet of dit Linnware is of nie?

Die antwoord is nee, ongelukkig is dit nie dieselfde ding nie. GLOBE is GLOBE, en Linnware is Linnware. Dis nie moeilik om te sien hoekom daar soms onsekerheid is nie, maar as jy eers weet waarvoor om uit te kyk, sal jy nooit weer die twee met mekaar verwar nie.

Soms is dit baie maklik om GLOBE uit te ken. Die latere stukke se glasuur is egalig en die vorme uniek aan GLOBE. Maar, ander kere moet selfs gesoute kenners maar die stuk optel, omdraai en vir 'n waarmerk of kenteken soek.

Die rede vir die ooreenkoms is eenvoudig. GLOBE het Linnware nagemaak. Dit klink egter erger as wat dit is. Die Linnware-keramiekateljee was die eerste van die sogenaamde kuns-pottebakkersateljee's in Suid-Afrika en dit was 'n enorme sukses. As voorloper van sy tyd het die vroue van Olifantsfontein 'n groot invloed op die hele keramiekbedryf uitgeoefen. Baie fabrieke het stukke gemaak wat direk deur Linnware geïnspireer is.

GLOBE was 'n fabriek en nie 'n keramiekateljee soos Linnware nie. Dit klink dalk na onbenullige detail, maar dit is baie bepalend. Die oogmerk van 'n fabriek is massaproduksie, en GLOBE het gemassaproduseer. Tussen die 1920's en 1958 is daar letterlik honderde duisend stukke GLOBE by die fabriek in Damstraat, Pretoria, vervaardig.

GLOBE se onderkant is altyd wit en is amper altyd met die woord GLOBE gewaarmerk. By uitsondering is daar net 'n nommer daarop aangebring. Op die vroegste stukke is dit met die hand geskryf. Later is dit met 'n letterpers aangebring.

Dis belangrik om tussen Linnware en GLOBE te onderskei, want daar is 'n enorme prysverskil. 'n Groot Linnware-stuk kan tot R12 500 werd wees terwyl die beste uit die GLOBE-fabriek maar vir ongeveer R2 500 sal verkoop.

Tog is GLOBE gesogte versamelstukke. Dis populêr juis omdat dit nog bekostigbaar is. So, vir diegene wat GLOBE het, hou vas en kyk mooi daarna. Dit sal met tyd in waarde toeneem.
Linnware-keramiek op houttafel
Linnware-keramiek waarmerk
Globe-keramiek waarmerk op wit onderkant
Linnware- en GLOBE-keramiek stukke op houttafel
Jo-Marie Rabe met Linnware-keramiek stukke
   

Lees Ook: