15 Desember 2010: Voetstofies

tessie op voetstofie Oudhede-ghoeroe Jo-Marie Rabe vertel hul dan graag die storie van Vermeer en die voetstofie.

In die bekende skildery, Die melkmeisie, wat die Hollandse meester Johannes Vermeer in 1660 geskilder het, is daar 'n voetstofie op die grond. Vir eeue lank het elke voorwerp wat in 'n kunswerk ingesluit is, 'n simboliese waarde gehad. Die voetstofie was die simbool van huislikheid en sorg – veral die soort wat net die huisvrou kan gee. Maar behalwe vir die simboliese funksie, het voetstofies natuurlik ook 'n praktiese nut gehad as verwarmers. En dit is al van die vroegste tye hier by ons gebruik.

Besoekers aan die Kaap is so gefassineer deur die vindingryke klein apparaatjies dat hulle dikwels daarna verwys het in hul skrywe en sketse. Dit wil voorkom asof dit veral die Ou-Kaapse dames was wat hierdie luukse benut het. Lady Anne Barnard het selfs haar stofie saam kerk toe geneem.

Kaapse voetstofies is meestal van ligte inheemse houtsoorte soos geelhout, sederhout en wit els gemaak, maar soms is donker houtsoorte, soos ingevoerde dennehout ook gebruik.

Voetstofies is met groot sorg gemaak en versier. By ons het die vroegste voorbeelde  gaatjies bo-op gehad wat in mooi patrone uitgesny was. Die drieblaar-, hartjie- en sterpatroon was van die gewildste motiewe. Maar, in die meeste gevalle was die opening eenvoudig en die gaatjies koeëlrond.

Elke voetstofie is met sy eie tessie gemaak. Tessies is altyd van dik yster gemaak sodat dit die hitte van gloeiende kole kon weerstaan. Soms is dit ook van geel- of rooikoper gemaak. Om dit fisies te kon hanteer, het die ystertjies altyd 'n handvatsel van duursame donkerhout gehad.

Wanneer dit koud was, is die tessies met gloeiende kole gevul en dan in die voetstofie gesit – heerlik warm.
hout voetstofies op tafel
Houtvoetstofie met ventilasiegaatjies
houtvoetstofie met tessie
voetstofie tessie
 

Lees Ook: