HOK: Hulle is kleurvol in karakter en voorkoms

10 Januarie 2010

Groen en blou pappegaai in hok

Papegaaie as troeteldiere fassineer die mens van die vroegste tye af en word reeds in Egiptiese hiërogliewe uitgebeeld. Sedert Alexander die Grote hulle na 397BC aan Europa gebring het, het die Antieke Grieke en Romeine altoos kleurvolle geveerdes aangehou.

By die World of Birds sowat 10 kilometer buite Houtbaai word meer as 300 voël-, kleiner soogdier- en reptiel-spesies gehuisves. Sowat 100 000 mense besoek jaarliks die park en die papegaaie is ʼn groot trekpleister. Van hul familielede sluit in makoue, parkiete, budjies en kokketiele. ʼn Spesiale dieet word vir hulle uitgewerk deur dokter Deon de Beer by wie ons volgende meer gaan uitvind het van die spesie. Hy bedryf die Animalzone Voëlkliniek op Klapmuts buite Stellenbosch.

Veeartse wat spesialiseer in voëls is nie in Suid-Afrika so volop soos in byvoorbeeld Amerika waar voëls as troeteldiere baie gewild is nie.

In die natuur kom die grootste verskeidenheid papegaaispesies in Suid-Amerika en Australasië voor. Daar is nagenoeg 372 spesies en hulle verkies ʼn warm tropiese klimaat. In die streke waar hulle volop is, word papegaaie soms as peste gesien omdat hulle vrugte, graan en ander gewasse vreet.

Deon maan dat as jy die stap wil neem om ʼn papegaai as troeteldier aan te skaf, moet jy seker maak jy koop ʼn mak en gesosialiseerde een wat met die hand grootgemaak is. Besoek self die hokke van die teler en maak seker die papegaai is rustig as hy hanteer word. Slegs ʼn mak papegaai maak ʼn goeie troeteldier. Die voëls broei nie maklik nie en baie van hulle slegs eenmaal per jaar.

Papegaaie kies slegs een lewensmaat en selfs wanneer dit nie broeityd is nie, is die paartjies baie geheg aan mekaar. So as jou omstandighede dit toelaat en jy kans sien, is dit ʼn goeie idee om ʼn paartjie aan te hou.

Groter papegaaie kan ouer as 80 jaar word terwyl kleiner voëltjies soos budjies tussen 15 en 25 jaar leef. Hou dít in gedagte en dat hulle toegewyde versorging vra. Daar word aanbeveel dat hulle minstes een keer ʼn dag uit die hok gehaal word, sodat dit skoongemaak kan word en hulle tyd buite saam met jou kan bestee.

Dié voëls is uiters afhanklik van sosiale interaksie. Indien die voëls nie genoegsaam deel gemaak word van hulle eienaars se lewe nie kan dit selfs tot depressie lei. As jong voëls genoeg aandag kry, vorm ʼn sterk band van vertroue. Boonop is hulle geselserig, spelerig en liefdevol. En, hoewel hulle baie vra, gee hulle in oorvloed terug. Vir die regte eienaar beslis ʼn troeteldier duisend.

PASELLA BEDANK GRAAG:

Hendrik Louw
Dr. Deon de Beer

World of Birds
T: 021 790 2730
www.worldofbirds.org.za
info@worldofbirds.org.za

Animalzone (Klapmuts Bird Clinic)
T: 021 875 5063
www.animalzone.co.za
clinic@animalzone.co.za

Hendrik Louw world of birds op pasella
Blou geel en groen pappegaaie op tak
Charlene Truter by world of birds
Geel groen en blou pappegaai in hout hok op pasella
Siek pappegaai op pasella
Groen pappegaaie in hok
Charlene Truter en wit pappegaai
   

Lees Ook: